Uitgebrand.

Ek weet nie of jy dit al agter gekom het nie, maar jy het my opgefok. Nie fisies nie, alhoewel ek glo dit minder seer sou wees, maar emosioneel. Jy het my so erg gebreek dat ek vir weke gestruikel het en die stukkies van my hart probeer bymekaar skraap het. Ek het lanklaas toegelaat dat iemand my so seer maak, en ek dink die enigste rede hoekom dit gebeur het is omdat ek jou lief het en geglo het ek sou jou verloor as ek opstaan vir myself en my hart beskerm. Ekt gedink ek kan jou stukkend weer heel lief hê. Maar die krake in jou hart het my hande laat bloei, elke keer wat ek jou gedruk het het jou hart se skerp punte net verder in myne in gesteek tot ek op die ou end uitgebloei het. Ons was die perfekte match, miskien is dit hoekom ons uitgebrand het. Dit klink kras as ek dit sê maar jy was die oorsaak vir my grootste break down nog, en dis net omdat ek jou lief het. Omdat ek jou seer wou weg vat, maak nie saak waardeur ek besig was om te gaan nie. Maar eks nou klaar.

Ek wil ook gelukkig wees al gaan dit my hart breek om te sien hoe iemand anders jou gelukkig maak.

But you can’t break something that’s already broken.

Advertisements

Jy maak my gelukkig.

Ek voel dis altyd so cliché as mense sê “ek weet nie waar om te begin nie”, maar glo my, ek weet rerig nie.

Vir my is dit meer soos hoe begin ek? Hoe begin ek vir jou sê dat ek van jou hou? Hoe maak ek my mond oop sodat my hart kan praat en nie my brein nie? My hart wil sê hoe baie jy vir my beteken en hoe erg ek is oor jou, maar my brein sê vir my ek moet my mond hou – want my brein weet seker dat ek nie gaan hoor van jou wat ek eintlik wil hoor nie – jy weet, ‘n beskermimgs meganisme. Dankie dat jy vooruit dink, Brein.

Ekt rerig nooit gedink dat ek enigsins iets vir jou sou voel nie. Vir my, self, was dit nogals uit die bloute – oorspronklik het ek beplan om jou net te gebruik vir ‘n aand om die honger in my te bevredig, maar iets in jou het die werklike honger in my wakker gemaak.
‘n Honger vir meer.

Ek wil langs jou lê en net praat oor als; ek wil na jou luister as jy my vertel oor jou kinderdae saam met jou nefie, oor wat jou hond se naam gaan wees eendag as jy groot is, ek wil weet hoe kak jou dag was, of selfs net luister hoe jy met trots sê dat jy 3 sigarette uitgedeel het: want almal weet hoe moeilik dit vir ‘n roker is om sy laaste ene weg te gee, maar nie vir jou nie – jy wil net altyd seker maak almal is gelukkig.

Ek wil hê jy moet seker maak ek is óók gelukkig. En ek kan vir jou sê wat my rerig gelukkig maak; soos ‘n vyfjarige dogtertjie wat haar eerste barbiepop kry, of in my geval: die dogtertjie wat elke oggend voor dagsorg eers saam met haar pa op die trekker moes ry hek toe en terug.

Jy het die vermoë om my gelukkig te maak met die kleinste dingetjies. Soos die manier wat jy soms met my praat, sonder woorde, net deur om vir my te kyk. Of as jy spot en sê ons het nie ‘n warmwatersakkie nodig nie – ek dink ons albei weet daars iets tussen ons wat vir ons albei kan warm hou.
Eks gelukkig as jy my wakker maak om te vra of ek okay is, net omdat ek bewe van die koue; en hoe jy my dan nader trek om seker te maak ek verkluim nie. Eks gelukkig as jy langs my kom staan by die bar om my geselskap te hou of as jy aan my tik om vir my te sê ek moet kyk hoe snaaks die mense dans. Dit wys net jy wil irrelevante goed met my deel. Dit maak my gelukkig as jy vir my stories wil vertel oor als wat gebeur het in die tyd wat ons nie saam was nie, al het ek al die hele storie by iemand anders gehoor, nét om daardie opgewondenheid in jou oë te sien maak my rerig gelukkig.

Ek belowe eks die een persoon wat elke rede het om nie van jou te hou nie (die woord “haat” is te sterk om te gebruik). Jy manupileer my emosioneel, jy verneder my voor ons vriende, jy soen my en dan vermy jy my vir 2 weke. Maar weet jy wat? Ten spyte van al die kak waardeur ek al moes gaan as gevolg van jou, kies ek steeds om net die goed in jou te sien; want ek weet waartoe jy instaat is – ek weet dis net ‘n fase.

Ek wil net weet: hoe voel jy oor my? Vat jy aan my hand en dink “dis net nog ‘n hand”. Of vat jy aan my hand en dink “ek wens ek kon eerlik met jou wees oor my gevoelens”.
As jy my soen, is ek net nóg ‘n vrystukkie, of is ek eintlik die een na wie toe jy heeltyd wíl terugkom?

Alles tussen ons het verander. Ons is van vriende, na vriende met voordele, na niks, na “iets” in ‘n tydperk van 4 maande. Op en af, soos ‘n yo-yo. Wanneer gaan ons nou eintlik dit uitsorteer? Dit offisieel maak?

Ek weet ek moenie en ek kan rerig nie myself keer nie, maar ek is regtig besig om ongelooflik baie lief te word vir jou. Nie net omdat ek dink jys mooi nie, maar ek het jou in die donker leer ken: letterlik met die ligte af is waar ek al jou geheime en onsekerhede gehoor het, en dís hoe ek lief geword het vir jou – vir die persoon wie jy is as niemand kyk nie.

Die persoon wie jy is as dit net ek en jy is.

Ekt nog nooit gesukkel om vir myself te verwoord nie, veral nie in sulke situasies nie, inteendeel. Maar met jou is dit net anders.

Ek kan myself wees rondom jou. En dit maak my gelukkig.

Jy maak my gelukkig.

Ek wil weet.

Dit pla my al vir die afgelope paar weke. Ek weet ek is nie eers veronderstel om aan jou te dink nie en ek voel obsessief. Maar ek moet dit van my hart af kry.

Om eerlik te wees het ek jou gehaat. Nadat jy my so sleg gesê het wou ek nooit weer jou gesig gesien het nie. En hoe ironies is dit dat ek nie nou kan ophou dink daaraan nie? Dis vir my moeilik om van jou te hou. Ek het lank daaraan gewerk om so sterk te word en elke keer as ek ‘n gedagte van jou kry voel dit net of liefde my weer gaan breek, alhoewel ek dit nie sal toelaat nie. Oh en ek sal ook nie toelaat dat jy ooit weer so met my praat nie, maar ek twyfel nogals of jy sal.

Jy dink dalk ek let nie op nie, maar ek het al gesien en agterkom. Ek sien die manier hoe jy na my kyk: terwyl ek dans, in ander mense se geselskap, of selfs al staan en wag ek by die bar. Jy vra my elke keer om te dans as jy my Vrydae aande in die kuierplek kry, en ekt nog nooit gesien dat jy met iemand anders daar dans nie. Ag dalk verbeel ek myself? Ek brand letterlik om vir jou te sê dat al wat ek wil doen is om vir jou ‘n drukkie te gee. Ek kan die krake van jou hart in jou oë sien. Terwyl jou vriende besope is en jy net daar sit en staar, na die koffietafel voor jou, of na my, ek weet nie.

Wat ek wel wil weet is hoe jy werklikwaar voel. Ek wil weet of ek myself verbeel. Kyk jy rerig vir my of is ek paranois? Ek hou daarvan hoe jy jou hand na my uithou om te dans. Die manier hoe jou oë ophelder as jy vir my glimlag.

Ek wil so graag vir jou sê hoe ek voel en ek wens ek het geweet hoe jy voel. Maar dit gaan tog nie kan werk nie, reg?

Ek dink ek kan dalk die meisie vir jou wees, net jammer dat ons seker nooit hieroor gaan praat nie. Ek stel nie belang in verhoudings nie, maar vir die eerste keer in drie jaar kyk ek na iemand en al wat ek wil doen is om my liefde vir daardie persoon te gee. Vir jou te gee.

Ek is frustreerd want ek wil weet. Ek wil weet of dit die moeite werd gaan wees en of ek nog heeltyd net myself verbeel. Jy is tog ‘n “ladiesman” so dalk is ek maar net nóg ‘n meisie.

In die aande voordat ek gaan slaap verbeel ek my dat jy langs my lê en net na my kyk en my hand vashou. Dis asof als vir ‘n split sekonde stil staan.

Asof dinge kan en sal uitwerk.

Hartedief.

“deur al die mense het jy gekom

met ‘n eenvoudige glimlag

soos van ‘n lang reis”

Ingrid Jonker

Ons het almal rondom die vuur gesit: ‘n besopene of twee, ‘n boer, ‘n genie, ‘n verraaier, ‘n danser, ‘n filosoof, en ek, die free spirit.  Niks vreemds daaraan nie, want dit is hoe ons saam gekuier het.  Ons sou tot laatnag bly en gesels oor als, vanaf ‘n bakleiery oor rassisme tot ‘n tranedal oor geliefdes wat deur kanker van ons af weggeneem is. 

Die filosoof het heeltyd aangehou om vir my liefling te noem. Ek het hom presies 48 uur geken. Ek was en is en sal tot hierdie dag toe nie sy donnerse liefling wees nie. Ek behoort nie aan hom nie en ek wil ook nie in dieselfde kategorie geplaas word as die vyf ander lieflinge nie.

24 uur voor Oujaarsdag kom die hartedief daar aan, die een met die blougroen oë, wat 700km moes reis om hier te wees. Die mans, of nee die ouens, het almal nóg ‘n beste vriend in gemeen: drank. Aangesien daar ‘n boer in die geselskap is, is dit amper vanselfsprekend dat daar een of ander tyd rassisme ter sprake sou kom. Of ek weet nie, maar ek het dit nog net altyd so ervaar. Hartedief en filosoof het heeltyd opmerkings gemaak. Hulle was nog onder die invloed van oom Olof ook. Ek glo nie dat Apartheid in vandag se samelewing hoort nie, dit is wel deel van ons erfenis, maar dit moes saam met die vorige era agter gebly het. Ek het toe net gevra of hul rustiger sal word, want dit het my begin pla en irriteer.

Hartedief het begin skel en skree, sommer net so op die free spirit vreemdeling. Ek het baklei en gestry tot ek kon, en my sê gesê, maar hy het net aangehou. ‘n Man wat sy speelgoed so uit die kot gooi, is beslis nog nie volwasse genoeg om geklassifiseer te word as ‘n man nie, nee liewers nog as ‘n kind.  Ek was alleen op daardie oomblik en daar was sewe ander siele rondom my. Niemand het vir my opgestaan nie, net gesê ek moet dit los en stil bly. Maar wat hulle nie verstaan nie, is dat ek nie kan sit en stil bly nie. Ek is al deur hel. So glo my as ek sê wees versigtig, want ek kyk in die vlamme in, en ek glimlag.

Uit respek vir die ander siele wat die geveg moes hoor, het ek later stil gebly. Ek het nie ophou baklei nie. Net stil gebly, want ek kon die vuur in my oë voel gloed. My stilte was ongelukkig níe ‘n antwoord níe.

Ek was nog nooit in my lewe so afgebreek en sleg gesê deur enigiemand nie. Ek het die vuur binne my probeer blus deur om die vensters van my siel se sluiers oop te draai. Ek wou daardie aand my ma bel en sê sy moet 148km ry en vir my kom haal. Ek het myself aan die slaap gehuil terwyl hul net verder gaan suip het. Ek kon nie glo dat dít is waarin vandag se mans besig is om in te verander nie. Waar is die liefde? Die respek? Die ordentlikheid?

Die volgende oggend het ek beplan om nie eers vir hom te kyk nie en te maak asof hy nie bestaan nie. Hy het nie my aandag verdien nie. Ek het opgekyk van my koppie tee af, en toe groet hy my met ‘n eenvoudige glimlag. Ek kon sweer ek het ‘n ster in sy oë gesien skiet. En amper net daar, sommer net so, het die spanning verdwyn. Die res van die tyd by die see het ons nie weer baklei nie. Ek het dit gelos want dit help nie ek bly kwaad nie. Dit is seker maar in die natuur van ‘n hartedief. Die vuur binne my het nogsteeds gebrand, maar ek was kalm. Ek het dit agter my gesit, want ek sou hom nie weer sien nie. 

Of so het ek gedink.

Sowat twee maande gelede het ek en my vriendin een aand besluit om te gaan dans. Die boer was ook daar, dronk natuurlik. Hartedief was ook daar, maar nugter. Ek en my vriendin het gedans en skielik gryp iemand my hand, en trek my weg van die dansvloer af. “Vermy jy my?” vra hartedief toe. Ek wou ja sê, want ek het. Toe groet ek hom, met ‘n eenvoudige glimlag,  draai om en gaan dans verder.

Ek het buite op die balkon by my vriendinne gestaan, toe vra hy my om met hom te dans. Ek het vir hom gekyk en nee gesê, maar toe vra hy weer. My vriendin en haar groot mond sê toe, “mens kan nie nee sê vir ‘n man so mooi soos hy nie.” Ek kon vir hom nee sê, en ek het. Maar ek wou nie. Soos wat ons inloop op pad dansvloer toe hou hy sy hand agter hom uit vir my om te vat. Ek dink toe bymyself, nee sy moer, maar toe so 5 tree voor die dans vloer gryp ek die punte van sy vingers en voel hoe syne om myne  vou.

Daardie aand het ons twee keer vasgedans. Ek het ook later uitgevind dat hy nie sommer vasdans nie. Moes ek spesiaal of geeerd voel?

Twee weke terug kuier ek eendag by die genie. Amper almal van die see vakansie was weer daar. Hartedief ook. Ek het met verloop van tyd begin oplet dat hy deur die geselskap vir my kyk. Maar staar kyk. Letterlik elke keer as my oog hom vang, was hy klaar besig om na my te kyk. Ek weet nie of ek my verbeel nie. En ek weet nie of hy dalk diep in die donkerste dele van sy liggaam ‘n vlammetjie, of dalk ‘n gloed, ervaar nie.

My vriendin se woorde aan my: “Mans is simpel en vreemd. Ek dink as hulle dronk is, is hulle net tien keer vreemder. Dit maak my hartseer dat hy so lelik teenoor jou opgetree het, maar sy optrede daarna was wel iets om op verlief te raak. Hy is nie perfek nie, maar wie is? As ek so luister, voel dit asof jy vir hom spesiaal is.”

Ek probeer myself oortuig dat ek nie belangstel in enigiemand nie. Dit is moeilik, maar dit werk. Ek het geleer om my gevoelings af te skakel. 

Ek is mal oor fotografie. En hys een van daai mense wat ek net heeltyd op die onverwagste oomblikke wil afneem, want dis dan wat hy vir my die mooiste is.

Almal weet die meisies is mal oor hom. Amper elke liewe een. Maar dalk is hy nie noodwendig mal oor al die ander meisies nie. Dalk is sy speeltyd verby. Almal word tog een of ander tyd groot.

Maar ek wil nie sterre in sy oë sien nie. En ek wil nie daaraan dink hoe sy baard teen my wang skuur as hy vir my ‘n drukkie gee nie. 

“Hy voel hom diep ingly in warmte en sagtheid en genade

terug in ‘n voorwêreldlike bestaan in lou diep water, 

soos ‘n poel waar hy in afduik, diep, ver, teug na alle wondere 

en waar alles moontlik is en alles vriendelik en alles goed, so goed, so goed;

en sy met soet oë  onder hom, met vuurlig en stilte…”

André P. Brink

Mans en verhoudings.

Ek is nie noodwendig ‘n “full on” feminis nie, maar ek is wel anti-man op hierdie stadium van my lewe, en dít kan ek jou vir seker. Ek glo nie alle mans is dose nie, maar ek was nog nie verkeerd bewys nie. Ek is ook nie oorhaastig met verhoudings nie, en om eerlik te wees stel ek op die oomblik nie belang in een nie.

Jy gaan in ‘n verhouding met iemand met wie jy die res van jou lewe wil spandeer, so dit gaan óf werk óf in ‘n pragtige, tragiese hartbreek opeindig. Maar dan besef jy dat jy meer verdien. Dat hy net toksies vir jou siel was.  Wees een van daardie vrouens, waar jy die skeure en krake in sy hart deur sy oë kan sien, sodra dit tyd is vir jou om weg te stap. En soms, moet mens iemand seermaak om hul te help.

Ek glo dat jy nooit op iemand anders moet staat maak om jou heel te laat voel nie. Ek is ‘n baie sterk mens, maar dit het my regtig lank gevat om hier uit te kom.

Jy moet gelukkig wees met wie en wat jy is. Dieet en oefen soveel as wat jy wil maar doen dit vir JOUSELF. Hy moet jou ondersteun net soos wat jy hom ondersteun. Jou beste moet oorgenoeg wees vir hom. Hy moet jou meer waardeer en HY moet besef dat jy nie iemand is wat mens ooit wil verloor nie. Hy moet vanselfsprekend na jou kyk asof daar sterrekonstelasies in jou oë is, asof jou lyf van goud gemaak is. Jy is ‘n fighter en ek weet dit, want ek glo dit. Maar as hy nie bereid is om te baklei nie dan is jy regtig net besig om jouself te verwoes. Baklei as jy moet baklei, maar stop net betyds voordat jy jouself verloor.

Die laaste keer.

Ek onthou nog die dag toe ek Lukas vir die eerste keer ontmoet het.  Ek was seker nege jaar oud toe hulle groot trektrok amper voor ons huis gestop het met ‘n snaakse registrasienommer.  Ma het nog gesê hulle kom van Gauteng af.

Lukas het later my bestevriend geword en ons het byna elke dag saam spandeer.  Op hoërskool was hy my eerste ware liefde, maar ons het opgebreek na sowat ses maande.  Ek kry sommer koue rillings as ek onthou hoe gebroke my hart was, want ek het nie net ‘n kêrel verloor nie, maar ook my beste vriend, die een wat altyd daar was vir my.

Ek het in Stellenbosch gaan studeer en hy was Vrystaat toe.  Vir sewe jaar het ek hom nie gesien nie.

Op ‘n dag, 7 Augustus 1999 om presies te wees, het ek baie nostalgies begin voel en skielik na Lukas verlang.  Sy teenwoordigheid.  Sy flou grappies.  Die manier hoe hy my altyd gegroet het.

Ek het nog so gesit en tee drink toe ek ewe skielik baie duidelik sy stem hoor.  Ek dog ek raak van  my kop af , want dit klink asof hy agter my staan.  En waaragtag, toe iemand aan my skouers vat, toe weet ek sommer dis hy.

Ons het verder saam tee gedrink en sewe jaar in een gesprek probeer inhaal.  Dit het nie gewerk nie en ons het afgespreek om die volgende dag weer by dieselfde koffiehuis te ontmoet.

Vandag is ons al sestien jaar getroud.  Gelukkig getroud.  Hy was my eerste beste vriend, my eerste liefde, my eerste hartbreek en nou is hy my laaste.

Sowat twee maande terug het ons uitgevind dat Lukas terminale kanker het.  Die lewe was nog nooit só moelik nie.

Elke dag wonder ek of dit die laaste is. Die laaste keer wat ons saam aan tafel as ‘n gesin sit.  Die laaste keer wat ek langs hom wakker word en hy nog asem haal. Die laaste keer wat ons hand-aan-hand op die strand loop.

Lukas, jou glimlag is ‘n oopgebreekte granaat, lag weer.

Ek het besef: sy kanker is my kanker. Dit laat my ly.  Dit maak my stadig dood.

Lukas was nog altyd mal daaroor om digbundels vir my te lees, maar nou moet ek vir hom lees.

Net soos wat Ingrid Jonker geskryf het “my lyk lê uitgespoel in wier en gras”  en vir die laaste keer selfmoord probeer pleeg en dit reggekry het, is Lukas ook besig met al sy laaste kere.

Ek verstaan vir die eerste keer hoe André P. Brink oor háár gevoel het toe hy “Son en donker” geskryf het.

Maar nou dat Lukas weg is, my son, is dit net donker.

My gunsteling tyd van die dag.

Daardie oomblik waar ek my oë oop maak & sien hoe sag jy nog slaap, is my gunsteling tyd van die dag. Die son wat oor die horison op kom kan nie eers vergelyk word met die meesterstuk wat langs my wakker word nie. Jy met die basbruin oë & donker hare. Jy met die songesoende vel & sagte lippe. Jy, die man met ‘n hart van goud. Jy is my gunsteling tyd van die dag.

My gunsteling tyd van die dag is wanneer jy jou kamera uithaal & oomblikke vas vang, waarna ons kan terug kyk eendag as ons groot is. Terwyl ek op die kombuistafel sit & appel stukkies op sny, sien ek net die lig flits van jou speelding. Op die onverwagste oomblikke neem jy my af. My hare is nog deurmekaar & gisteraand se grimering is oor my wang gesmeer. Jy sê vir my dat ek, jou kunswerk, jou model, perfek is in my eie manier. Jy sê dat die waarde van geld nie eers my skoonheid kan omkoop nie.

My gunsteling tyd van die dag is wanneer ek jou soek in ons tuin. Ek kry jou op jou gunsteling wegkruipplek, onder die groot akkerboom, met ‘n koppie rooibostee in jou hand & Ingrid Jonker as jou geselskap. Ek lag vir jou, my droom man, & jy kyk op na my. Jy herhaal haar woorde, met passie in jou oë, “Jou lag is ‘n oopgebreekte granaat. Lag weer.” Jy soen my met gedigte, droom man.

My gunsteling tyd van die dag is wanneer jy vir my ‘n glas rooiwyn skink, wanneer jou hand myne vat & wanneer jou lippe saggies oor myne streel. My gunsteling tyd van die dag is wanneer jy vir my sê dat jy my lief het.

My gunsteling tyd van die dag is wanneer ons in die donkerte lê & ek die sterrekonstelasies in jou oë soek. My gunsteling tyd van die dag is daardie oomblik wat vir ewig voel, daardie oomblik waar jou hartklop jaag, maar jy met rustigheid na my kyk. Jy fluister Die Enkeling se woorde, “Ons baljaar op Pluto & maak liefde op die maan, maar dit is eers op Aarde, waar jy my liefling, verstaan.”

My gunsteling tyd van die dag is wanneer ek besig is om aan die slaap te raak, langsaan jou sy. Ek voel veilig & tuis by jou.

Maar, my heel gunsteling tyd van die dag, net voordat ek afskakel, is daardie minuut waar ek die Here dank vir hierdie droom man, Sy mooiste Engel, wat Hy vir my nog elke dag spaar.